Die skrywer

Siegfried Eckleben is op 1 Mei 1944 in Weimar/Duitsland gebore. Sy familie het die Russiese Sone van die na-oorlogse Duitsland in 1949 verlaat en na die huidige Namibië (voorheen Suidwes-Afrika) geëmigreer, waar sy vader gedurende die Duitse koloniale tyd gebore is. Daar het hy opgegroei en skoolgegaan. Daarna  het hy elektrotegniese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstadt studeer.

Nadat hy in etlike lande in suidelike Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Australië en Europa as ingenieur gewerk en gelewe het, bly hy nou deeltyds noord van die ekwator  in ʼn steenhuisie op een van die Azores eilande – en in die suidelike hemisfeer in  ʼn woonstel in Namibië.

Die raaisel van die heelal en konsepte soos ewig en oneindig het hom van sy kinderdae af tegelykertyd aangelok en vrees veroorsaak - en het hom uiteindelik daartoe gedryf, die eerste deel van BÊNG te skryf. Die eienaardighede van die mensdom waarmee hy in verskeie lande te doen gekry het, het hom van die oorheersende belangrikheid van genetika oortuig - en hom die tweede deel van die boek laat skryf. En dat die grootste probleem van ons planeet – die oorbevolking – deur die owerheide wêreldwyd vernalatig word.

Siegfried praat vyf tale en het artikels in Engels, Duits en Portugees geskryf.

Hy is vir die derde keer getroud en het ʼn volwasse seun in Brasilië.

Hy reis graag op vragskepe, waar hy sy tyd graag met skryf deurbring.